Van die Depot tot Duitswes
Oupa Chris Crafford vertel staaltjies oor sy lewe en polisieloopbaan
Hierdie boek is ’n formidabele stuk lewensgeskiedenis wat op meesterlike wyse deur Chris Crafford op die rype ouderdom van 91 jaar neergepen is. Dit spreek boekdele van sy kleurryke lewe vol interessante belewinge in die destydse ‘Duitswes’, wat vandag bekend staan as Namibië, sowel as op verskeie plekke in Suid-Afrika waar hy deur sy lewe gewoon en gewerk het.
~ Uittreksel uit die Voorwoord.
~ Uittreksel uit die Voorwoord.
'n Paar uittreksels uit die Voorwoord asook Hoofstuk 2 van die boek is op hierdie web-blad met toestemming gepubliseer.
Eerste druk 2011
ISBN: 978-1-920290-95-5 Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag op watter wyse ook al gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die uitgewer nie. Voorwoord
NB: Nie volledig! ~ Webmeester
Oupa Chris het selfs op 91-jarige ouderdom nog die vermoë om sy lesers op meesterlike wyse te boei met sy pittige kwinkslae. Tussen die reëls dra hy ook waardevolle lewenslesse oor en ons sal hom ewig dankbaar bly daarvoor. Al ons dank aan die Here wat vir Oupa Chris op hierdie rype ouderdom steeds die vermoë en die helderheid van verstand skenk om al hierdie inligting van onskatbare waarde, in soveel detail, met sy eie unieke skryfstyl en taalgebruik te kan weergee. Dankie pappie vir die besondere mens wat jy is en vir die pragtige voorbeeld wat jy vir ons stel in dinge soos menseverhoudinge, eerlikheid, skerpsinnigheid en liefde vir die natuur. Ons gaan dit geniet om saam met jou deur die bladsye van hierdie boek te reis.
Hesca Crafford
(Skoondogter) April 2011 |
Die volledige hardeband boek is op Groep7 Drukkers se aanlyn-webwinkel beskikbaar.
|
2. Depot Dae
Volledige Hoofstuk
Ja Meneer Nee Sersant

Om heel voor te begin – ek het 1938 matriek aan die Hoërskool Montagu geskryf. Dit was in die depressiejare – geld was skaars en werksgeleenthede byna onmoontlik.
Na twee jaar se werk by Brink Broers kry ek ’n brief dat my aansoek om by die Polisie aan te sluit goedgekeur is, mits ek voldoen aan die minimum vereistes. Die sersant wat my die goeie tyding gebring het, het my meegedeel dat my borsmaat ’n half duim te klein is. Hy het my verder meegedeel dat daar op die oomblik ’n groot tekort is aan applikante met die nodige akademiese kwalifikasies en dat ek oor veertien dae my aansoek moes herhaal.
My tweede aansoek het geslaag en ek moes ’n week later by die Distriks-kommandant op Worcester rapporteer vir ’n skriftelike eksamen en vir finale aanbeveling. ’n Week later bevind ek my op die trein na Pretoria. By my in die kompartement is daar nog drie jongmanne – bang vir die onbekende wat voorlê. Die een is Eric van Eeden van die Paarl, die ander Andries de Kock van Bredasdorp en die derde Nic Joubert van Calvinia – almal plaasseuns en elkeen vol bangmaakstories op wat wag. Ek persoonlik het op ’n plaas grootgeword en min geweet van militêre dissipline. Was maar klein gebou en nie gewoond aan ’n geraas op paradegronde nie. Ons vier het groot maats gebly vir die tyd wat ons in Pretoria was.
Na twee jaar se werk by Brink Broers kry ek ’n brief dat my aansoek om by die Polisie aan te sluit goedgekeur is, mits ek voldoen aan die minimum vereistes. Die sersant wat my die goeie tyding gebring het, het my meegedeel dat my borsmaat ’n half duim te klein is. Hy het my verder meegedeel dat daar op die oomblik ’n groot tekort is aan applikante met die nodige akademiese kwalifikasies en dat ek oor veertien dae my aansoek moes herhaal.
My tweede aansoek het geslaag en ek moes ’n week later by die Distriks-kommandant op Worcester rapporteer vir ’n skriftelike eksamen en vir finale aanbeveling. ’n Week later bevind ek my op die trein na Pretoria. By my in die kompartement is daar nog drie jongmanne – bang vir die onbekende wat voorlê. Die een is Eric van Eeden van die Paarl, die ander Andries de Kock van Bredasdorp en die derde Nic Joubert van Calvinia – almal plaasseuns en elkeen vol bangmaakstories op wat wag. Ek persoonlik het op ’n plaas grootgeword en min geweet van militêre dissipline. Was maar klein gebou en nie gewoond aan ’n geraas op paradegronde nie. Ons vier het groot maats gebly vir die tyd wat ons in Pretoria was.

Op 4 April 1940 begin ons opleiding. Die Polisiedepot was toe vol. Ons vier is by troep 36 ingedeel en was die jongste ‘blougatte’. Ons eerste dag was hoofsaaklik aan militêre dissipline gewy. Nou leer jy vir die eerste keer wat dissipline is. Jy mag nooit stap nie, hardloop van klas tot klas. Jy leer bed opmaak – as dit nie reg is nie moet dit oorgedoen word. ’n Sersant is ’n hoogs belangrike persoon en moes altyd op aandag aangespreek word – ’n sersant dra drie goue strepe op sy regter bo-arm. ’n Persoon met vier goue strepe onder op sy linkerarm dui aan dat hy minstens vyf jaar diens het, een streep minder as die jare. Geen strepe, maar met ’n kasteel op sy regterskouer is ’n hoof-konstabel en dra ’n stokkie in sy hand of onder sy arm en word aangespreek as ‘meneer’. Vir my was alles aan die begin baie verwarrend. Die tweede dag word ons troep aangetree in ons P.T.- klere in ’n groot saal, waar elkeen gemeet en geweeg word vir rekorddoeleindes. Die P.T. instrukteurs is almal in wit P.T.-klere aangetrek. Jy staan soos ’n paal bo water en wanneer jou naam geroep word, gaan jy ’n paar treë vorentoe. “Is jy Crafford?”. “Ja”. “Ja wie?” “Ja, sersant!”. “Het jy nog niks geleer nie?”. “Nee, sersant!” Hy sê vir die P.T.- instrukteur: “Skryf hom op vir strafdril more-oggend”. “Goed meneer!” Volgende oggend is ons vyftien op parade. Eers verduidelik – Aandag – Regsom – Linksom – Kom op parade, ens. Aan die sersant: “Stuur hulle in vinnige pas viermaal om die paradegrond!” Ons is almal redelik fiks, maar na twee rondtes skreeu die sersant: “Halt!” Dit gaan nie goed nie, want elkeen het sy eie tyd. Nou gee die sersant ’n paar demonstrasies. Hy se: “Kyk na my voete!”. Ons kyk – dit lyk maklik. Regsom – dit klink soos twintig pare voete wat op ’n sinkplaat stamp. Vir vyf minute moet ons regsom Die sersant sê later: “Redelik, maar wanneer ek sê ‘linksom’ moet daar net een geluid wees”. Dit klink maklik, maar sjoe, dit is nie. Later skreeu die sersant op ’n ander sersant: “Vat hulle nog twee keer op ’n drafpas om die paradegrond en sorg dat hulle môre elke beweging ken.” Die vierde dag word drie van ons aangesê om met die dienskar saam te gaan vir x-straal toetse. Ons hardloop tot by die dienskamer – nêrens mag gestop word nie. Ons sien die dienskar en draf soontoe. Daar staan ’n persoon met vier strepe op sy arm. Ek oorhandig ons geskrifte en ek vra: “Kan ons môre saamry stad toe, asseblief?” “Asseblief wie?” “Asseblief sersant!” Vier strepe? – ek dink weer. “Asseblief sersant” – hy sê vir my: “Kom jy uit die bos uit?”. Ek sê: “Nee sersant!”, maar ek sien dis verkeerd en sê sommer vinnig: “Nee kaptein!” Hy klink egter baie behulpsaam en sê vir my: “’n Mens moet te veel goed op ’n dag leer – ek is ’n konstabel met vyf jaar diens.”. Ek sê: “Dankie sersant, ek sal onthou”, maar vra hom hoe moet ek hom aanspreek. Hy glimlag en sê: “Net gewoonweg as ‘meneer”.
Presteer met Perde
Die eerste week gaan sonder voorval verby behalwe Vrydag. Vrydag is daar net twee items op die rooster: Vroeg-oggend kamer-inspeksie en daarna perdeparade. Die eerste paar keer van oggend-inspeksie word slegs geleer wat inspeksie beteken en daarna moet jy weet dat net die geringste stoffie of vuiligheid beteken – alle verlof gekanselleer vir veertien dae. Perdeparade beteken vir ’n uur of langer is dit perdedril en perde skoonmaak. Jy het toe reeds geleer watter perd is joune. Jy word geleer hoe om jou perd skoon te maak, hoe om op te saal, hoe om op te klim – om te praat met jou perd, hoe om af te saal. Daarna word hulle gelei na die oefensaal en in dieselfde orde as by die stalle aan te tree. Ons oefen-sersant is sersant Bokkie Breed. Jy gaan staan langs jou perd en musiek begin speel. Sersant Breed roep ’n instrukteur nader en hy demonstreer stap vir stap hoe om op te klim. Stap een: lig linkervoet en twee; vat aan saal en in vinnige beweging trek jouself op en plaas jou linkervoet in stiebeuel en swaai jou regterbeen oor perd om in die ander stiebeuel te sit. Sit regop in die saal en hou teuels in linkerhand op so ’n manier dat die perd onder beheer kan bly. Dis dadelik duidelik dat party nog nooit op ’n perd se rug was nie en party wil albei hande vry hê om vas te klou. Die musiek word marsmusiek en die perde kom vanself op aandag. Die bevel kom: “Stap” en soos een begin die perde stap op maat van die musiek. Na een rondte verander die musiek en die perde slaan oor in ’n stadige draffie. Dit beteken dat jy nou met jou knieë moet vashou deur albei knieë styf om die perd se bors te druk. Dis maklik, maar kos selfbeheersing. Na ’n halwe rondte val twee ruiters van hulle perde af en die sersant skreeu: “Klim weer op!” Dis nou moeilik, want die perd is senuagtig en draai in die rondte sodra jy jou voet lig. Die sersant roep twee nommers en beveel dat hulle perde omruil met die twee wat geval het – dis makliker perde. Die musiek word harder en die perde gaan op ’n stadige gallop. Dit klou nou met altwee hande en skud op en af. Daar val weer een en nog een en nog een. Dis ’n sandoppervlakte en niemand kry seer nie. Die musiek hou op en die perde gaan staan tegelyk. Sersant Breed kom vorentoe en demonstreer breedvoerig watter foute gemaak word en dat daar nou op ’n vinnige drafstap gery gaan word en daarna op ’n vinnige gallop. Hy vra: “Wie wil staak?” en daar gaan ses hande op. “Saal af en gee julle perde vir die ordonans, maar more-oggend sewe uur sal julle weer kom ry.” Hy sê vir my om my perd vir nr. 8 te gee om een van die ander perde te neem. Ek herken nr. 8 as ‘Brits’ - ’n onrustige dier. Die perde is gereed, die musiek gaan voort en hulle slaan oor in ’n haastige drafstap en dan in ’n gallop. Al vinniger. Ek klou vir al wat ek werd is. Twee perde voor my val die ruiter, die perd voor my swenk weg en my perd spring eenkant toe. Ek verloor so ’n bietjie balans en vang my perd per ongeluk met die spoor aan my stiebeuel. Hy dink dat hy moet vinniger gaan en begin spring. So by die vierde sprong is albei my voete uit die stiebeuels en die teuels is uit my hande. Ek buk vorentoe om die teuels op te tel en terselfdetyd spring my perd na agtertoe en weer vinnig na regs. Met die teuels in my hand vat ek voor by die nek van die perd vas en slaag daarin om hom weer tot stilstand te bring. Soos blits spring ek weer op die perd se rug en is die perd weer tenvolle onder beheer. Dit was ’n goeie dag en die klompie toeskouers klap hande. Toe ons stop kom sersant Breed na my toe en sê: “Mooi gedoen konstabel.” Hy sal ’n aantekening na die dienskamer stuur om ’n gunstige rapport uit te bring. Die volgende dag is ek na die dienskamer geroep en aangesê om hoof-konstabel Louis Snyman in sy kantoor te gaan spreek. Ek het groot geskrik, want hy was bekend as ’n streng man en in beheer van die hele Depot se dissipline. Ek klop aan sy deur en ’n harde stem sê: “Kom binne!” Ek gaan toe in en hy hou ’n stukkie papier na my uit en sê: “Is dit jy?” Hy staan op agter sy tafel en heel vaderlik sê hy: “ Ek is so gewoond klagtes ontvang – hierdie is ’n kompliment. Ek sê vir jou baie geluk – ons soek meer sulke seuns. Ek sal jou kan gebruik by die erewag by die volgende opening van die parlement.” Ek voel of ek my bors kan uitstoot vir so ’n kompliment.
Skitter in Skiet
Die enigste uitstaande item op ons rooster was skietkuns – rewolwerskiet en skyfskiet met ’n diensgeweer. Heeldag in die veld met skiet op distansie 200, 400, en 800 treë. Aan die einde van die dag het Andries de Kock en ek elk eerste en tweede prys ontvang en is ons op die lys geplaas vir kampioen-skyfskiet kompetisies later. Ons name het verskyn in die skyfskiet tydskrif vir goeie skuts op die skietbaan. Daar is ’n kantien waar jy alles wat jy nodig het kan koop – skoonmaakgoed, koeldrank en skryfgoed. Jy teken net daarvoor en einde van die maand trek hulle dit van jou salaris af. Haarsny eenmaal per week – dit word ook outomaties afgetrek. So kom die eerste betaaldag. Ons troep tree aan en elk kry ’n koevert met ’n betaalstaat daarin. My kamermaat, ene B.B. Coetzee, was ’n kwaai roker en het ook maar lekker in die kantien gekuier. Toe hy sy koevert oopmaak en kyk en weer kyk sien hy dat hy vir minus twee pond geteken het, m.a.w. hy het niks om van te lewe die volgende maand nie. Ek skrik self want toe sien ek my aftrekkings – pensioen, medies, en ’n rits aftrekkings waarvan die losies die meeste was. Nou staan almal en vergelyk en kla dat hulle ander werk gaan soek. Coetzee kom eerste na my toe – hy het seker gesien ek het darem ’n paar pond gekry. “Leen asseblief vir my een pond en ek gee aan die einde van die maand vir jou twee pond terug”. Later: ”Leen vir my twee sigarette en ek gee die naweek vir jou vyf terug”.
Yskor
Die Depot opleiding verloop volgens plan maar oorlog breek uit en sonder meer word verdere opleiding onderbreek. Vir onthalwe van my kinders wil ek graag ’n paar gedagtes aanteken wat my altyd sal bybly. Miskien mag hulle dink dat Oupa altyd ’n voorbeeldige polisieman was. Vir bykans twee jaar moes ons troep Yskor oppas - ’n baie belangrike werk.

Drie polisiespanne is gekeur en ingedeel in drie skofte. Dit was veronderstel om agt-uur skofte te wees, maar omdat die rondtes in die veld is en dit lank neem om elke lid op sy pos te kry, verloop daar prakties nege ure of langer voordat jou skof voltooi is. Dit was oorlogsjare en Yskor het belangrike oorlogsmateriaal geproduseer. Dit is ons elke dag ingeprent wanneer ons vir diens aangemeld het. Dit het ons so beïndruk dat ons lojaal ons werk gedoen het. Om Yskor was ’n draad gespan en ons pligte was om hierdie draad te bewaak. Die draad het oor rante en dale gegaan en elke man het ’n distansie gehad om te patroleer.
Vir die eerste paar weke het dit goed gegaan. Gebeur daar vir dae en weke niks nie, het jy geleer om maar jou lojaliteit te vergeet en jou rondte volgens die horlosie gestap. Daar was 31 rondtes en daar was twee sersante wat besoek afgelê het. ’n Distansie van ongeveer 10 myl. As ek byvoorbeeld om agtuur op my rondte afgelaai is, het ek gereken dat dit die sersant ’n halfuur sal neem om tot by my te loop. Met die grootste gerustheid kon ek vir 25 minute slaap. Die geweer, met bajonet aan, word skuins teen die draadheining geplant. Met die een hand word die hoogste draad vasgevat en word die geweer as ’n stut gebruik om teen te lê. Jy slaap nooit vas nie en wanneer jou hand wat die draad vashou laat skiet is jy helder wakker. Daar was ontelbare maniere om jou buurman te laat weet wanneer die sersant in aantog was.
Vir die eerste paar weke het dit goed gegaan. Gebeur daar vir dae en weke niks nie, het jy geleer om maar jou lojaliteit te vergeet en jou rondte volgens die horlosie gestap. Daar was 31 rondtes en daar was twee sersante wat besoek afgelê het. ’n Distansie van ongeveer 10 myl. As ek byvoorbeeld om agtuur op my rondte afgelaai is, het ek gereken dat dit die sersant ’n halfuur sal neem om tot by my te loop. Met die grootste gerustheid kon ek vir 25 minute slaap. Die geweer, met bajonet aan, word skuins teen die draadheining geplant. Met die een hand word die hoogste draad vasgevat en word die geweer as ’n stut gebruik om teen te lê. Jy slaap nooit vas nie en wanneer jou hand wat die draad vashou laat skiet is jy helder wakker. Daar was ontelbare maniere om jou buurman te laat weet wanneer die sersant in aantog was.
Elkeen het geweet dat dit fisies onmoontlik is om vir agt uur ’n rondte te doen en elkeen het sy eie metode gehad om homself ‘af te gee’. Ek was net op een geleentheid uitgevang. Dit het as volg gebeur. Dit was nagdiens en ek was geplaas op ’n rondte van ongeveer 400 treë langs ’n reguit draad. Die hele rondte was verlig en jy kon die hele distansie sien. Dit het die hele nag gereën en die sersant moes met die pad loop of deur nat gras as hy jou wil bekruip. Ek het my rondte twee keer gestap en oppad terug moes ek oor ’n klomp los klippe trap. My voet het oor een klip gegly en ek het agteroor op my sitvlak geval. Ek het twee pyne gevoel – die een aan my regter-enkel en die ander aan my laer rug. Met pyn kom ek aangesukkel tot by my hut. Ek het langs die hut gaan sit en met my rug teen die hut geleun. Toe die sersant binne sig kom, het ek stadig probeer opstaan en weer teruggeval. Die sersant, dit was ondersersant Lubbe, het verskrik nadergekom en gevra: “Wat is verkeerd?”. Ek het gesê dat ek geval het. Hy het hom vaal geskrik en gevra: “Waar het jy seergekry?” Ek het vir hom gesê: “Daar by die gladde plek”. “Waar het jy seer?” vra hy. “Aan my rug”. ’n Besering aan diens was ’n ernstige saak en kan lang nagevolge hê. Hy het dadelik geskakel na ons kantoor gesê: “Stuur dringend ’n kar na rondte nr. 8 met die buite pad”. Na ’n paar minute het ’n bakkie kom stilhou. Die sersant sê vir die bestuurder: “Kom help hom oplaai – sy rug is beseer”. Met ’n versigtige gesukkel word ek voorin gelaai. Die sersant neem sy plek langs my in en beduie: “Ry na die Depothospitaal!”. Daar aangekom, word die mediese ordonnans breedvoerig vertel dat dit ’n rugbesering is. Ek word afgelaai in ’n rystoel en versigtig ingestoot tot by ’n bed. Die ordonnans word aangesê om dadelik met massering te begin. Hy voel dis ’n geval vir ’n senior suster by die hospitaal. Dit word gereël en ’n rukkie later kom ’n jong blanke sustertjie daar aan. My rug voel dadelik beter. Die sersant verduidelik aan haar in streng militêre styl dat dit noodsaaklik is dat sy my so gou doenlik fiks kry vir diens. Dit is ’n besering aan diens (B.A.D.) Ek voel dadelik dat ek in goeie hande is en sy sê ewe moederlik aan my as ek saamwerk, los ons die probleem gou-gou op. Die sersant vertrek en die suster probeer vasstel wat verkeerd is. Toe so na die derde oplig van die regterbeen sê sy hulle sal dadelik met massering begin, maar dat dit feitlik onmoontlik is om vas te stel wat verkeerd is. Sy meen dit is ’n spierbesering – met dit kan sy probeer help. Sy begin ook dadelik met massering. Haar hande is sag en haar oë blink elke keer as sy na my kyk. Na 10 minute se vryf voel ek reeds ’n groot verligting. Die suster sê sy gaan nou eers hitte opsit en later aangaan met die massering. Elke keer as sy na my kyk is daar ’n straal van verligting. Die volgende oggend kom sersant Lubbe kyk hoe dit gaan. Die suster sê vir hom, so ’n rug kom nie gou reg nie, maar hy moet geduld gebruik. Ek sal in elk geval nie gou op diens geplaas kan word nie. Die behandeling is ’n werklike plesier. Die suster is so vriendelik dat sy elke keer as sy my sien spontaan sê ek lyk beter. Die derde dag kan ek opstaan en in ’n rystoel buite op die stoep gaan sit. Ek mag egter geen tree loop nie. Daar op die stoep kom my maat, wat saam met my die rondte gestap het, my besoek. Ek vertel hom toe dat die sersant ’n getuie soek dat ek gegly en geval het. Hy knipoog vir my en sê dat ek my oor niks moet bekommer nie. ‘”Ek was op die punt van my rondte en het gesien toe jy geval het en kruppelkruppel na jou huisie gesukkel het. Los alles in my hande. Jou B.A.D. kan nou spoedig afgehandel word.” ’n Beter vriend kan jy nêrens kry nie. My behandeling vorder so goed dat ek na vier dae ontslaan kan word en op ligte diens in die Depot geplaas kan word. Dit word gereël en ek moet al die wetlesings bywoon en elke oggend gaan rapporteer vir ligte behandeling by die hospitaal.
Kersete Kortwiek Wagdienste
Daar is egter nog een geval wat ek minder graag wil onthou. Dit was gedurende November 1940 en die personeel het besluit om ’n Kersete vir al die rekrute te reël – ’n ete beter en lekkerder as die gewone. Ons troep sou in die aand eet, maar net na die ete moes ons wagdienste by Yskor voortsit. Dit was ’n fatale besluit. Ons moes nege-uur aantree vir diens. Ons ete was gereël vir sesuur. Daar was een of twee kort toesprake en toe ons begin eet was dit reeds na sewe. As ’n spesiale vergunning is daar vir elke tafel ’n bottel droë wyn bedien. Daar is vier of vyf aan tafel. Gou-gou was daar vrolik gesels. Daar was min drinkers in ons troep en daar is vol bottels aangestuur na die volgende tafel. As jy heeltemal oordeelkundig was, kon jy gaan vra het vir ’n bottel by die kroeg. Ons troep was eerste bedien en kon voor die tyd gaan om gereed te maak vir diens. By daardie tyd het die wingerdstok al begin praat.

Toe ons uiteindelik aantree vir diens kon ons nie behoorlik aantree nie en die sersant in bevel het gesê hy gaan iemand roep om te oordeel of ons geskik is om op diens te gaan. Sersant Du Plessis, ’n senior sersant, kom toe daar aan. Hy roep: “Parade aandág – regs-om – links-om – makeer die pas!”. Elke man probeer sy bes om so reg moontlik te lyk. Met die tweede beweging is daar reeds twee manne wat nie kan volhou nie en hulle word aangesê om die parade te verlaat. Die twee sersante beraadslaag – hulle het ’n yslike probleem: verdaag hulle die hele parade is daar niemand om in ons plek wag te staan nie en daar word besluit dat die parade moet voortgaan. Met ’n groot gesukkel vertrek ons voertuig. By Yskor aangekom, word die parade weer aangetree en word ons rondtes uitgedeel. Maar ’n groot probleem. As die sersant vir ’n man sê: “Rondte nr. 1”; sê hy dadelik: “Ek is te dronk en kan nie op ’n plek gaan staan waar ek in die oog van die publiek is nie”. Dit was ’n nare ondervinding. Daar is summier besluit om nooit weer drank te voorsien wanneer iemand op diens moet gaan nie. Sovêr ek weet staan die reëling vandag nog by die Kollege. Ons was veronderstel om 10 uur die mense by Yskor af te los. Om 11 uur het party manne hulle rondte verlaat en kom kyk wat aangaan. Dit was ’n ernstige fout. Hulle is later departementeel aangekla. Ek het 11 uur op my rondte gegaan en moeg gevoel van al die getalm. Om 12 uur het daar ’n onbekende offisier my kom besoek en verneem: “Voel jy geskik vir diens?”. Hy het saam met my op my rondte gestap, homself oortuig dat ek reg is en gevra dat ek my rondte moet voltooi en ’n aantekening in my sakboekie gemaak dat ek geskik is vir diens. Terwyl hy by my was gaan daar ’n paar geweerskote links van ons af. Hy sê toe dit is manne wat op die Naturelle (swart mense) by die kampong skiet. Dit was so ernstig dat die Weermag ingeroep is om op bystand te wees. ’n Onvergeetlike gebeurtenis was dat twee lede wat voor Yskor se hoofgebou gepos was, vieruur in die oggend in die visdam geval het en Depot toe moes gaan om droog te word. Agterna het ons hele troep om verskoning gevra vir ons gedrag wat, aan enige maatstaf gemeet, betreurenswaardig was. Ons troep was vir 18 maande op Yskordiens geplaas. Dit was harde werk. Om byvoorbeeld 8 tot 10 ure by ’n hek te staan met skouergeweer was geen maklike taak nie. Vra maar vandag vir manne wat daar diens gedoen het hoe lank ’n halfuur kan wees – laat staan nog agt ure.
Rooi Eed – liewers dood
Die normale kursusopleiding in die Depot was vier tot ses maande. Toe die oorlog in 1939 uitbreek was alle werwing gestop en slegs daardie manne wat toe in die Depot was het agtergebly om hulle kursus te voltooi. Ons troep 36 het toe twee maande opleiding voltooi – ons is toe gekies om Yskor op te pas en in dieselfde tyd die kursus te voltooi. Dit het beteken as jy byvoorbeeld om sesuur van diens kom, moes jy nog, voor jou volgende skof, ten minste drie periodes regsvakke of ander vakke bywoon. Daar was vyf regsvakke en daar was nie tyd om te studeer nie – jy moes maar jou eie tyd inruim. Daar was glad nie so iets soos rusdae of afdae nie. Jy was te besig om te kla of om af te vra. Wanneer mens terugkyk was dit tog lekker. Daar was tog ook moeilike dae. Dit was in die dae van baie politieke woelinge. Dit het etlike kere gebeur dat jy op diens was en ’n boodskap gekry het dat jou aflos nie sal opdaag nie en dat jy maar moes deurdruk tot die volgende aflos. Die Ossewabrandwag het ’n poskantoor opgeblaas en dis die gouste om ’n vyftig man in die Depot bymekaar te kry om in Johannesburg te gaan diens doen.
Uit dankbaarheid vir ons getroue werk, het die Depot-kombuis vir elke man ’n pakkie heerlike toebroodjies en ’n bottel koffie aangestuur. As jy opreg honger was, was dit die lekkerste brood wat jy nog ooit geëet het.
Uit dankbaarheid vir ons getroue werk, het die Depot-kombuis vir elke man ’n pakkie heerlike toebroodjies en ’n bottel koffie aangestuur. As jy opreg honger was, was dit die lekkerste brood wat jy nog ooit geëet het.
Met verwysing na die ‘moeilike dae’, die volgende verhaaltjie wat deur my pa en sy swaer (Hennie Ellis, in lewe getroud met my pa se suster Hettie) oorvertel is. Soos reeds gemeld was dit oorlogsjare. Byna op ’n daaglikse basis is my pa deur die meer senior personeel by die Depot genader om die sg. ‘Rooi Eed’ te neem. Vanuit die staanspoor het hy geweier ondanks die luilekker lewe van die ander rekrute wat reeds tot dié stap oorgegaan het. Hy het maar voortgegaan om maar eerder wagdienste by Yskor te doen en om kampdienste ook rondom die tente van die ‘Rooilissies’ te verrig. Minderjariges het immers die toestemming van hul ouers nodig gehad om die ‘Eed’ te neem – ’n besluit wat my pa sy weduweemoeder (ouma Truia) in ieder geval beslis wou spaar. Om die ‘oorlogsgesindes finaal van sy lyf af te kry’, versoek hy gevolglik sy geesgenoot in Struisbaai, swaer Hennie, om ’n brief, asof deur Ouma geskryf, (handtekening en al) aan die Bevelvoerder te rig met haar afkeur, ens. dat haar seun hoegenaamd nie die Rooi Eed mag neem nie. Hulle het hom toe nie weer kom pla nie.
Depot Parade
Voor ons ons kom kry is die tydperk van opleiding verby en die laaste paar weke word uitsluitlik gebruik vir die voorbereiding van die uitpasseringsparade aan die einde van die jaar. Vir maande word jy al geestelik voorberei vir hierdie dag. Dit moes beter wees as enige vorige parade. Vir elke konstabel word daar ’n uitnodiging gestuur om hierdie geleentheid by te woon. Die dag breek eindelik aan. Daar heers ’n ongekende opwinding – hierdie dag behoort aan die Polisie Depot. Van vroeg die oggend af kom daar al karre van al die uithoeke van die land af aan. Party gaan sit al vroeg op die pawiljoen, want om ’n duisend manne op parade te sien marsjeer, is iets om oor huistoe te skryf. Om 9vm kom die volle Polisie-orkes op parade. Hulle speel marsmusiek wat jou voete laat jeuk. Almal wag vir die regte tyd wanneer daar ’n teken van die orkes kom. Die paradesersant roep die parade tot aandag. 500 Pare voete reageer soos in een beweging – daarna “oor geweer!”, “presenteer geweer!”, ens. soos een man paraat en gelyk. Die skare staan op en gee erkenning aan ’n mooi stukkie werk. “Parade af geweer!” en “Op die plek rus!” Die Bevelvoerde Offisier van die Depot kom aan die woord. Hy heet almal welkom – van elke ouer tot elke student. Hy beklemtoon die feit dat dit vir elke ouer ’n besondere dag is. Dat baie van hulle huiwerig was om hulle seuns na die polisie te stuur, maar dat ieder en elk vandag oorloop van trots om te sien wat hulle kinders kan doen. Hy benadruk die feit dat die Polisie vandag ’n groot rol speel in die beskerming en bewaking van ons land en sy mense. Hy erken dat dit nie die veilgste beroep is nie, maar wil sê dat die Polisiemag van Suid-Afrika wêreldwyd as van die beste erken word. Daarna kom die Goewerneur-Generaal aan die woord en in ’n kragtige rede bedank hy die personeel van die Polisie Depot vir hulle doeltreffende werk in ’n kort periode. Hyself voel trots en gelukkig om so ’n parade by te woon. Die beste mansstudent word navore geroep en word vir die prestasie gelukgewens. Die orkes kom in beweging en op bevel van die paradesersant word ’n verbymars gedoen verby die hoogwaardigheidsbekleërs, die ouers en die publiek . Dit is so perfek dat niemand kan dink hulle is reeds van baie vroeg die oggend op die been nie.
Uitplasings – Quo Vadis?
Die dag breek aan dat ons almal weer op parade staan, deur die Depot bevelvoerende offisier toegespreek word en bedank word vir pligsgetroue werk. Hy deel mee dat ons nou sal hoor waarheen ons uitgeplaas gaan word. Daar is ’n menigte rekrute wat angstig wag. Die name word vinnig afgelees. Die meeste gaan na Johannesburg en ander groot stede. Ek is maar te bly dat ek nie na Johannesburg toe gaan nie, want ek is eerlik bang vir so ’n groot plek. Aan die einde bly daar net vier manne staan en die offisier in bevel sê dat hul dienste elders benodig word. Hulle gaan Duitswes toe. Hy begin lees: “Andries de Kock – Gobabis, J. Delport – Omaruru, C. Crafford – Keetmanshoop Distrik – die Distrikskommissaris moet besluit watter stasie. Ek staan verstom. Ek was so verbaas dat ek niks kon praat nie. My ma woon op Montagu en sy het reeds vantevore ’n brief geskryf en gevra dat ek daar naby geplaas moes word. Hulle het baie beleefd teruggeskryf dat hulle hul bes sal doen. Nou sit ek in die middel van die wêreld. Weier kan ek nie – en ek wil ook nie. Later gaan ek na een van die sersante wat in die administrasiekantoor werk. Hy is baie behulpsaam en praat my moed in. Hy sê hy het al baie manne ontmoet wat in Duitswes gewerk het en met goeie lof van daardie land praat. Ek besluit om te berus en ’n week later is ek op die trein na Keetmanshoop.
Hiermee sluit ek my storie af met ’n gevoel van trots dat ek vir 40 jaar ’n lid van só ’n Mag kon wees. Ek salueer julle – ek en my hele familie.
(Ons het ’n seun wat in die Mag was, verloor. Hy was ’n voorbeeldige lid van die Mag en ons was trots op hom.)
(Ons het ’n seun wat in die Mag was, verloor. Hy was ’n voorbeeldige lid van die Mag en ons was trots op hom.)
Alle regte voorbehou. Geen gedeelte van hierdie publikasie mag op watter wyse ook al gereproduseer word sonder die skriftelike toestemming van die uitgewer nie.
Die lewensskets van Genl.-Maj. Chris Crafford (5/9/1919 – 20/8/2017) oorspan ’n kleurryke polisie loopbaan wat begin as onderoffisier in die destydse “Duitswes” en eindig as kwartiermeester in Pretoria.
Met sy unieke skryfstyl word die leser geboei deur sy kwinkslae, skerpsinnigheid, liefde vir die natuur en die eerlikheid van sy vertellings. Die verhaal is tekenend van ’n puik polisieman – geliefd, wat ’n verskil gemaak het aan almal wat sy pad gekruis het. Groep 7 Drukkers en Uitgewers (Pty) Ltd
Tambotieweg 776, Kameeldrif-oos, Pretoria Posbus 14717, Sinoville, 0129 Epos: epos@groep7.co.za Tel: 082 4490 574 www.groep7.co.za www.groep7-selfpublish-books.co.za |
DEEL HIERDIE BLAD
SHARE THIS PAGE
SHARE THIS PAGE
Die volledige reeks, met pensketse, is gratis beskikbaar vir lees op hierdie webwerf.