DIE KEURRAAD
deur Kaptein M. de W. Dippenaar
Soos die spreekwoord lui : “Eers kindjie sien voor vader staan”. As ‘n mens ligsinnig wil wees oor die mees ernstige komitee in die Suid-Afrikaanse Polisie, dan kan jy seker die spreekwoord uit die volksmond haal en rondslinger vir jou eie troos. Maar die Keurraad is geen grap nie – nog minder is dit die onderwerp van ligsinnigheid.
Teen hierdie tyd vra u seker die vraag: “Maar wat is die Keurraad en waarom so gevrees?” Die antwoord is nie so eenvoudig soos die vraag nie. Die Keurraad – onder polisiemanne bekend as die Mielie- of Koringraad – is die voorlaaste toets wat ‘n onderoffisier in die polisie moet slaag alvorens die veelgesogte Kommissie deur die Staatspresident aan hom of haar offisierstatus sal verleen. En net die hoogste ampsbekleërs in die Suid-Afrikaanse Polisie sit op die Raad. Net die allerbestes slaag die toets.
Slegs adjudant-offisiere wat kwalifiseer – op een of ander voorgeskrewe akademiese gebied – verskyn voor die Raad. Maar die Raad is nie onmenslik nie. Dit is wel ‘n gewetensgèselaar – jy dink terug oor jou loopbaan vandat jy aangesluit het by die Mag. Die Raad laat jou dink aan jou verlede. En jy kommer en kwel jou. Weet hulle iets wat ek nie weet nie? Wat kan hulle my vra? Was my optrede korrek volgens die reëls en regulasies? Maar, bo alles, kom die introspeksie: Is ek offisiersmateriaal? Sal ek kan offer wat Suid-Afrika vra? Sal ek kan lei waar andere afdwaal? Sal ek kan volg waar die sterkere lei? Sal èk eendag met waardigheid kan sit waar die Raadslede sit? Is ek die Mag waardig?
Aan humor ontbreek dit nie – veral na die tyd. Maar dis humor uit verligting. Vele ou staaltjies bestaan soos die een waar die generaal aan die bibberende kandidaat sou sê: “Waarom sit u nie?” Waarop die antwoord kom: “Dankie, generaal, maar ek is heeltemal gerieflik hier op my knieë”. Of die een waar die Keurraad, nadat niks nadeligs teen die kandidaat gevind kon word nie, aggressief vra: “Drink jy?”
Van die kandidaat, terwyl hy op sy horlosie kyk, kom kordaat die antwoord: “Dis nog ‘n bietjie vroeg, generaal, dog skink maar solank ‘n kleintjie”.
Die humor is ‘n mite. Die teendeel is waar, as die waarheid dan moet uitkom.
Verby is die dae toe selfs die offisierskandidaat se vrou voor die Keurraad moes verskyn. Sy was die troefkaart. Sy was bepalend vir sy loopbaan. Vandag is dit anders. Die kandidaat staan alleen. Sy angs en sy vrese kan hy met niemand deel nie – nie eers met huis en haard nie, want dis ‘n vreemde situasie wat deur niemand verstaan sal word nie behalwe as hy of sy self reeds daar deur is.
Die polisie stel ‘n baie hoë premie op die gehalte van sy lede in die algemeen en op sy offisiere in die besonder. Dit kan nooit uit gedagte verloor word nie dat die offisierskorps se grootste waarnemers en kritici in die Mag self sit – daardie duisende manskappe en onderoffisiere wat hulle moet laat lei deur die klein groepie professionele kundiges. Die spreekwoord lui: “Woorde wek maar voorbeelde strek”. Inderdaad ‘n waar woord veral as dit toepassing gemaak word op die polisie wat uit daardie groot groep onderoffisiere en manskappe van vandag moet die offisierskorps van môre gekeur word. Die offisier moet dus in daad, optrede en in woord altyd ‘n voorbeeld wees vir sy volgelinge – die potensiële offisiere van die toekoms.
Meer as die vereiste eksamen, en selfs meer nog as die verpligte offisierskursus, word die Keurraad gevrees en bly dit inderdaad een van die grootste toetse wat in ‘n reeds moeilike tyd voor die offisierskandidaat opdoem. ‘n Moeilike tyd, weliswaar, want dis ‘n tyd van eksamen skryf, ‘n vermoeiende kursus slaag en aanpassings maak. Elke kandidaat is bewus van wat voorlê; wèèt dat hy ‘n mate van finaliteit in sy loopbaan ingebou het; besef dat hy ‘n waterskeiding in sy lewe bereik het. Wanneer hy eers die dag ‘n offisier is volg nuwe uitdagings, nuwe vereistes, nuwe voortdurende aanpassings en nuwe verhoudinge. Die tyd dat hy net nog “een van die manne” was is nou vir goed verby. Voortaan sal hy ‘n identifiseerbare individu wees – gemerk deur diegene laer in rang, maar ook onder die vergrootglas van die polisie se hoofde. ‘n Tyd van beproewing het aangebreek.
Dan kom die opdrag – die kandidaat moet hom of haar op ‘n gegewe datum en plek aanmeld voor die Keurraad. Vir die grootste gros van die kandidate is dit die eerste keer in hul loopbaan dat hulle op hierdie wyse van aangesig tot aangesig kom met die lede van die Generale Staf. Sommige van die generaals mag moontlik in die verlede op ‘n afstand gesien gewees het – by funksies, by parades, tydens besoeke en inspeksies, maar nog nooit so as ‘n verenigde front wat in ‘n skynbare oordeel sit nie. Dis ‘n angswekkende gedagte en menige hartklop mis ‘n slag of wat. Die nag voor die kandidaat se verskyning voor die Raad verloop gewoonlik met ‘n oormaat van nagmerries of in slaaploosheid. Wegkomkans is daar nie – die Rubicon sal oorgesteek moet word.
Die oggend voordat die kandidate die Raadsaal een-een binnestap om gekeur te word, word hulle geskool. Stap so, salueer, sit regop, praat duidelik, wees saaklik. Elkeen drink die opdragte in en neem hom voor om net die beste vertoning te lewer waartoe hy in staat is. Vir oulaas word antwoorde op moontlike vrae uitgeruil, die “Stem van Suid-Afrika” in Afrikaans en Engels geprewel en die nuutste koerante deurgeblaai om op hoogte van die jongste nuusgebeure in die wêreld te kom. Skoene word nog ‘n keer skoongevrywe, vaal kolle op die leerwerk afgevee, denkbeeldige rafels op die mooi blou uniform afgehaal. En dan breek die groot gevreesde oomblik aan. Jou naam word uitgeroep!
Wat vir die meeste kandidate ‘n vreemde gedagte is, is die feit dat, soos wat dit vir hom of haar ‘n eerste keer is, dit eweneens vir die Keurraad ‘n eerste keer is. Die kandidaat bied homself of haarself aan as ‘n kommoditeit om die Mag se beeld mee te verkoop - die Keurraad moet binne ‘n paar minute besluit of die kandidaat aanvaarbaar is as offisiersmateriaal in die Suid-Afrikaanse Polisie om vir die Mag ‘n krediet te wees. Die toetsing werk na beide kante. Die feit dat die polisie se offisierskorps so ‘n hoë standard van werkverrigting handhaaf en oor ‘n tydperk van 70 jaar ‘n uitstekende beeld opgebou het vir die Mag, spreek boekdele oor die Keurraad-metode van seleksie.
Die keuring van die kandidaat geskied agter geslote deure. En net so gaan ons nie hier en nou daardie deure oopmaak vir almal om te sien en te hoor wat waarlik daaragter gebeur nie. Dis genoeg om te weet dat die Keurraad die mees ernstige aspek van die polisieman se bevordering veronderstel. En die Raad maak nie foute met die keuring nie. Binne ‘n paar minute word heelwat gesê en vasgestel agter die toe deure en wanneer die kandidaat weer te voorskyn kom is dit of hy of sy “anders” is. Miskien bleek en bewerig; miskien te praterig, te laggerig. Maar in hulle oë is ‘n nuwe vasberadenheid en motivering, die tred is vaster, die houding meer fier. Die grootste toets is agter die rug – net die harde werk op die kursus bly oor.
En die lede van die Keurraad wanneer hulle uit die Raadsaal tevoorskyn kom? Om hulle lippe speel menige glimlagte – miskien oor iets amusant wat in die Raad gese is, miskien om ‘n ander rede. Maar die groot indruk wat gewek word is een van tevredenheid. Die kindjie is gesien. Nou kan daar met gerustheid vader gestaan word.

DEEL HIERDIE BLAD