LUDI NOS EXCOLUNT
(Sport veredel ons)
deur Majoor Tiaan Crafford
Die Suid-Afrikaanse Polisie het ‘n roemryke 70 jaar agter die rug waarin die hoogste louere nie net vir die Mag nie maar ook vir Suid-Afrika ingeoes is.
Vanaf 1912 toe sersant K.K. McArthur, polisieman uit Wes-Transvaal, die veeleisende marathon tydens die Olimpiese Spele in Stockholm gewen het, het sport ‘n moeilike pad gevolg waarlangs baie spit- en graafwerk gedoen moes word. Met McArthur het ons egter op ‘n mooi noot begin. Hy was die eerste polisieman in groen en goud en soos mens van ‘n goeie sportman sou verwag, die beskeidenheid self. So was die begin van sport in die polisie ook klein en beskeie. Op plekkies soos Thaba’Nchu en Benoni is atletiek in ‘n mindere mate saam met gimkanas en boeresport-saamtrekke in 1914 beoefen. Gedurende 1924 is ‘n wye veld betree toe die verskillende Gewapende Magte op Robbertshoogte – Voortrekkerhoogte vandag – in Pretoria kragte gemeet het en die polisie die byeenkoms oorheers het deur al die nommers, behalwe verspring, in te palm. Gedurende daardie jare was daar, benewens private klubs, nie polisie atletiekklubs nie. Ondanks dit het die atlete in Johannesburg hul eie toutrekspan gehad en was vir ‘n lang tydperk die kampioenspan in Transvaal. Te midde van moeilike omstandighede, was die geesdrif en spangees onder die manne iets van ‘n ander wêreld. Die groot getalle wat vir rugbyoefeninge by “Bobby Loftus”, Pretoria, opgedaag het, het vriend en vyand verras. Die rugbyboom van die geregsdienaars het gegroei en geblom met name soos Lucas Strachan, Hannes Brewis, Karel van Vollenhoven, Piet Uys, Mof Myburgh, Buurman van Zyl, en Naas Botha. Hansie Brewis – die vaalseun van Pretoria, oftewel “Kiewiet” – het in 1949 vir die eerste keer die groen en goud oor sy kop getrek en het in al vier toetse teen die All Blacks gespeel. Sy grootste triomf het hy sekerlik tydens die betrokke tweede toets gehad. Hy het naamlik voorgegee dat hy ‘n skepskop gaan waag en daarmee vir Laurie Grant, groot All Black flank, gefnuik, soos ‘n vetgesmeerde blits het hy afgepeil na die doellyn, die beroemde Bob Scott met ‘n heupswaai geklop en die eerste drie van die toetsreeks vir die Springbokke gedruk. Na sy ontmoeting met die beroemde Jack Kyle van Ierland is hy as die grootste losskakel in die wereld geag. Gedagtig aan hom het senior student dikwels ontgroenings voor die standbeeld van Paul Kruger laat plaasvind. Indien die juniors op ‘n vraag antwoord dat dit Paul Kruger is wat daar staan, is hulle behoorlik gekarnuffel. Net soos Lucas Strachan en Poens Prinsloo – ‘n dubbele Springbok – veelsydige sportmanne was, het Hannes Brewis groot hoogtes bereik in tennis en pluimbal. Polisie-atletiek is eers vanaf 1932 op behoorlik georganiseerde grondslag beoefen. Elke jaar, behalwe gedurende die Tweede Wêreldoorlog en gedurende 1960/61 (weens buitengewone diensomstandighede) was daar Polisie Atletiek Kampioenskappe gehou. Een van die baie groot name wat die atletiekgeskiedenis van die Suid-Afrikaanse Polisie versier, is op 16 April 1960 te Bloemfontein bygevoeg. Bokant die juigende skare van bykans 10 000 toeskouers was die volgende aankondiging skaars hoorbaar: “Dames en here – eerste in die 440 tree hekkies – Gert Potgieter. Tyd 49,3 sekondes. Dis ‘n nuwe baanrekord, ‘n nuwe Suid-Afrikaanse rekord, ‘n nuwe Statebondsrekord, dis ‘n nuwe wereldrekord”. Wat ‘n present op sy 23ste verjaardag en geskenk vir sy volk! Op die relatief beperkte terreine van boks en stoeikryte het verskeie polisiemanne baie roem vir Suid-Afrika verwerf. Daar is genl.-maj. Manie van Zyl wat Suid-Afrika vanaf 1954 tot 1960 op verskeie groot geleenthede met onderskeiding verteenwoordig en goue medaljes in 1954 en 1956 by die Statebondspele by onderskeidelik Vancouver en Cardiff verwerf het. Soos sovele ander polisiemanne het ook hy sy gesonde sportmanskap met akademiese kwalifikasies gekombineer. In die persoon van adjudant-offisier Daan Bekker het ons nie net een van Suid-Afrika se grootste boksers nie – hy het die goue medalje op die Statebondspele in 1958 en die silwer medalje met die Olimpiese Spele in 1960 te Rome verower – maar ook ‘n man met ‘n groot hart en fyn sin vir humor. By genoemde Spele ontmoet hy ‘n jong Amerikaanse Neger, Julian Brown, ‘n naelloper en baie lief vir homself. Hy het homself gevolglik aan almal voorgestel. So het hy dan ook met Daan blad geskud. Ewe sedig kom dit van Daan se kant en stel hy hom bekend as “Baas Daan Bekker”. Julian het verwonderd na Daan gekyk en gese: “That’s a queer name but I’ll try to remember it”. Nodeloos om te sê dat ons swaargewigkampioen vir die res van die Spele vir ten minste een persoon “Baas Daan” gebly het. Hulle is as groot vriende uitmekaar. |
Recommended
|
Die polisieman op sportgebied kan nie beter opgesom word nie as in die woorde van die amptelike sportlied van die Suid-Afrikaanse Polisie.
‘Fiks gespierd vir elke taak,
Van sportman of vir dienstig waak.
Deins ons nêrens ooit terug.
Nimmer slaan ons op die vlug.
Wakker en Achilles snel
In werk, en sport en harde spel.
Oral pryk ons Mag se naam
Eervol, en met Springbokfaam
Ludi nos excolunt’.
Van sportman of vir dienstig waak.
Deins ons nêrens ooit terug.
Nimmer slaan ons op die vlug.
Wakker en Achilles snel
In werk, en sport en harde spel.
Oral pryk ons Mag se naam
Eervol, en met Springbokfaam
Ludi nos excolunt’.
DEEL HIERDIE BLAD