Suid-Afrika was gedurende die tydperk 1960 tot 1990 in ‘n bloedige terreuroorlog gewikkel waar die ANC/SAKP-alliansie en ander rewolusionêre organisasies gepoog het om die regering met geweld omver te werp. Die SAKP het met die hulp van Sowjet-Rusland die toonaangewende rol gespeel en ruim van propaganda gebruik gemaak om plaaslik en internasionaal die Suid-Afrikaanse veiligheidsmagte, insonderheid die veiligheidstak, verdag te maak en elke moontlike voorval uit te buit om die lede van die veiligheidstak in ‘n swak lig te stel. Daar is geen onderskeid tussen sagte en harde teikens gemaak nie en weerlose burgerlike lede, wat vrouens en kinders ingesluit het, is meedoënloos in die stryd vermoor, vermink of beseer.
Dit was die Suid-Afrikaanse Polisiemag, meer besonder die veiligheidstak, se taak om die gemeenskap teen die aanslag te beskerm. Vanweë die aard en omvang van die bedreiging was lede van die veiligheidstak genoodsaak om dikwels in noodweer of omstandighede wat vanweë die bedreiging op noodweer neergekom het, die reg in eie hande te neem. Die magtige propaganda masjien van Sowjet-Rusland het sommige van die media, akademici, kerke en vakbonde op sleeptou geneem en die veiligheidstak moes gereeld vure doodslaan om die venynige aanvalle af te weer.
Max du Preez het die Vrye Weekblad bedryf en het berigte in die blad geplaas waarin genl. Lothar Neethling daarvan beskuldig is dat hy gif verskaf het om politieke aktiviste om die lewe te bring. Genl. Neethling het ‘n eis weens laster teen die Vrye Weekblad ingestel wat geslaag het en die Vrye Weekblad finansieel geruïneer het. Die appèlhof het eenparig bevind dat Max du Preez wel laster gepleeg het. Daar is nooit enige bewyse gelewer dat genl. Neethling wel gif verskaf het wat teen politieke aktiviste gebruik is nie.
Max du Preez. Foto: Die Burger/Yunus Mohammed/Gallo Images
Die volgende stelling wat Max du Preez maak is kensketsend van hoe gewetenloos hy inligting verdraai om op ‘n misleidende wyse ongegronde bewerings ‘n skyn van waarheid te gee:
“Dis die man wat ’n hele paar keer by Vlakplaas gaan besoek aflê het om Eugene de Kock en sy mede-wreedaards aan te moedig, wat medaljes aan moordenaars uitgereik en aan die bors gesteek het. Dit is die man onder wie se bevel tienduisende mense, onder hulle kinders, sonder verhoor aangehou is; wat toegesien het dat die polisie die Raad van Kerke en Cosatu se geboue opgeblaas het; wat sy naam onderaan dokumente geteken het wat vra dat aktiviste “geëlimineer” word; die man onder wie die stratcom-veldtog geloods is om vals inligting oor mense in die UDF en ANC te versprei; wat sluipmoorde en marteling help geheim gehou het. Hy het die bloed van die Pebco 3, die Mamelodi 10 en vele ander aan sy hande.”
Vlok was slegs by die opblaas van die gebou van die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke en Cosatuhuis asook by die poging tot moord op eerwaarde Chikane betrokke. Dit was deel van die konflik van die verlede waarvoor die slotgedeelte van die Tussentydse Grondwet voorsiening maak en inderdaad ‘n druppel aan die emmer indien dit met die onmenslike terreurdade van die ANC/SAKP-alliansie vergelyk word. Hy was ook betrokke by ‘n stratkomprojek toe fop plofmeganismes in teaters geplant is.
Voormalige Minister van Wet en Orde, Adriaan Vlok. Foto: Kim Ludbrook/EPA
Hy was op geen wyse by die PEBCO 3, die Mamelodi 10 en ander voorvalle betrokke nie en het dit is duidelik dat hy hoegenaamd geen kennis van die feite het nie. Vlok het ook geen kennis gedra van enige van die moorde wat deur Eugene de Kock en lede van Vlakplaas gepleeg is nie. Hy was ook nie by enige van die voorvalle wat op Max du Preez betrekking het betrokke nie en is duidelik onkundig oor die feite.
Die veiligheidstak het nog nooit wederregtelik teen Max du Preez opgetree nie en in al die gevalle is die gebruiklike regsproses gevolg waar Max aan die kortste end getrek het as gevolg van die feit dat hy nie die bewerings wat hy gemaak het, kon staaf nie.
Die slotgedeelte van die Tussentydse grondwet lui soos volg:
“”..... Die aanvaarding van hierdie Grondwet lê die vaste fondament vir die mense van Suid-Afrika om die verdelings en tweespalt van die verlede, wat gelei het tot growwe skendings van menseregte, die verbreking van menslikheidsbeginsels in gewelddadige konflik en 'n nalatenskap van haat, vrees, skuld en wraak, te oorbrug.
Die geleentheid is daar om dit nou reg te stel op die grondslag dat daar 'n behoefte bestaan aan begrip en nie wraaksug nie, 'n behoefte aan herstel en nie vergelding nie, 'n behoefte aan medemenslikheid en nie viktimisering nie...”””
Die Stigting is nie bewus daarvan dat die aartsbiskop Tutu en die lede van die Nasionale Uitvoerende Komitee van die African National Congress die honderde slagoffers van terreur ooit om vergiffenis of selfs net verskoning gevra het nie. Die lede van die NUK volgens onder wie se beheer die dade van terreur gepleeg is en aan wie amnestie geweier is, is ook nooit vervolg nie.
Die bepalings van die slotgedeelte van die Tussentydse Grondwet het versoening as oogmerk gehad en was bedoel om die ongeregtighede van alle partye wat by die rewolusioneer stryd betrokke was, hetsy as aggressors of verweerders, te oorbrug. Indien hierdie bepalings deur al die partye wat dit aanvaar het heelhartig onderskryf en toegepas is, sou die voetwassery in elk geval oorbodig gewees het. Die feit dat F W de Klerk en al die politieke leiers wat daarby betrokke was nog nooit enige woord daaroor gerep het nie, bevestig dat dit uit die staanspoor as ‘n klug beskou is.