Onreg en die miskenning van die bepalings van ons Grondwet het so ‘n algemene verskynsel in Suid-Afrika geword dat dit in die meeste kringe as vanselfsprekend aanvaar word. Die aanstelling van lt.genl. Mbatha as hoof van die Suid-Afrikaanse Leër is sonder twyfel ‘n voortvloeisel uit ‘n verrot regstelsel waar die reg op ‘n eensydige en onregmatige wyse deur die Nasionale Vervolgingsgesag toegepas word. Lt.genl. Mbatha het op 25 Mei 1993 ene, Walter Smiles, opdrag gegee om ‘n handgranaat in die Trustbankgebou in Kimberley te gooi. Hy het Smiles na die toneel vervoer en was teenwoordig toe die handgranaat gegooi is. Een persoon is tydens die voorval gedood en 40 beseer wat weerlose vrouens en kinders ingesluit het.
Lt.genl. Mbatha het aansoek om amnestie gedoen, maar die amnestiekomitee het bevind dat die voorval nie deel van die konflik van die verlede was nie en derhalwe nie met ‘n politieke oogmerk verband gehou het nie. Amnestie is geweier.
Daar is derhalwe ‘n klagte van moord en poging tot moord teen lt.genl. Mbatha hangende en sy aanstelling as hoof van die Suid-Afrikaanse Leër skokkend.
Die growwe wyse waarop die Nasionale Vervolgingsgesag die bepalings van artikel 9 van die Grondwet en reg en geregtigheid in die algemeen minag, word nog sterker beklemtoon as dit in ag geneem word dat die dade waarvoor voormalige lede van die veiligheidstak tans vervolg word sonder uitsondering met ‘n politieke oogmerk verband hou en in die konflik van die verlede gepleeg is en derhalwe binne die bepalings van die slotgedeelte van die Tussentydse Grondwet val. Daarteenoor hou die moord en poging tot moord wat lt.genl. Mbatha gepleeg het, volgens die nadruklike bevinding van die amnestiekomitee, nie verband met ‘n politieke oogmerk nie en is nie in die konflik van die verlede gepleeg nie. Dit val derhalwe nie binne die bepalings van die slotgedeelte van die Tussentydse Grondwet nie en is vir alle regsdoeleindes gewone moord en poging tot moord.