GENERAALS HET NIE EUGENE DE KOCK SE DADE TOEGESMEER EN HOM DAARNA IN DIE STEEK GELAAT NIE!
18 Julie 2017
Johan van der Merwe
Rouen Pallas se skrywes oor die generaals wat Eugene de Kock se dade sou toegesmeer het en hom daarna in die steek gelaat het, het betrekking.
Rouen Pallas het gedurende die sestigerjare onder my bevel gedien toe ek in beheer van die grensposte op die RSA-Lesothogrens was en ek het gereeld met hom geskakel. Daar het ‘n goeie verhouding tussen ons bestaan en ek wou nie by hierdie aangeleentheid betrokke raak nie. Sy knaende aantygings jeens die generaals wat Eugene de Kock se dade toegesmeer het en hom daarna in die steek gelaat het, noop my egter om daarop te antwoord. Genl. Piet Viljoen is reeds op 17 Mei 2015 oorlede en genl. Johan le Roux het ‘n breinoperasie gehad en nog nie volkome herstel nie.
Die persepsie dat die generaals Eugene de Kock in die steek gelaat het, het inderdaad sy oorsprong by aantygings wat Eugene de Kock by verskeie geleenthede self gemaak het. Ek het in antwoord op ‘n ope brief wat Eugene de Kock uit die tronk geskryf het sy aantygings aan die hand van feite weerlê wat volledig in die Rapport van 27 Julie 2014 verskyn het.
Die Goldstone-kommissie is gedurende 1991 deur mnr. F W de Klerk aangestel om ondersoek in te stel na geweld wat na 17 Julie 1991 plaasgevind het. In die loop van sy ondersoek het die kommissie hom egter begin toespits op die ondersoek van dade wat in die konflik van die verlede plaasgevind het en ten opsigte waarvan amnestie-onderhandelinge aan die gang was. Die ondersoek het op ‘n eensydige en onbillike wyse geskied en was slegs gemik op dade wat deur lede van die veiligheidstak gepleeg is. Dit het onder andere Eugene de Kock en sy eenheid ingesluit. Ek het by mnr. De Klerk beswaar aangeteken dat die kommissie sy mandaat oorskry, maar mnr. De Klerk wou nie ingryp nie en het aangevoer dat dit die indruk sal wek dat hy dade toesmeer. Ek het daarna mnr. Mandela genader, aangesien ek vermoed het dat mnr. Mandela ook met regter Goldstone skakel en waarskynlik meer invloed as mnr. De Klerk gehad het. Mnr. Mandela het met my saamgestem en het onderneem om regter Goldstone te versoek om die betrokke ondersoeke te staak. Die kommissie het egter voortgegaan met die ondersoeke en regter Goldstone het later heftig ontken dat mnr. Mandela so ‘n versoek aan hom gerig het. Ek het daarna opdrag gegee dat ‘n span speurders al die gevalle waar lede van Ukhonto we Sizwe moorde gepleeg het, wat verskeie motorkarbomvoorvalle ingesluit het, waar lede van die Nasionale Uitvoerende Komitee van die ANC/SAKP-alliansie op grond van gemeenskaplike opset aanspreeklik is, ondersoek moet word. Mnr. Mandela het onmiddellik beswaar gemaak en gedreig om hulle aan die onderhandelinge te onttrek. Mnr. De Klerk het daarop gelas dat die ondersoeke gestaak moet word.
Die ondersoek ten opsigte van gevalle waarby Eugene de Kock betrokke was, is deur dr. Jan D’Oliveira, die prokureur-generaal van Noord-Transvaal, en sy ondersoekspan oorgeneem. Ek het dr. D’Oliveira gaan spreek en ingelig dat Eugene de Kock en sy eenheid in opdrag van hoërgesag, onder andere mnr. P.W. Botha, mnr. Vlok en ekself, Khotsohuis en Cosatuhuis vernietig het en dat hulle nie ten opsigte van dade wat binne die bestek van die amnestie-onderhandelinge val, vervolg behoort te word nie. Dr. D’Oliveira het saamgestem, maar aangevoer dat hy regtens oor geen bevoegdheid beskik het om op daardie tydstip te weier om ten opsigte van moord te vervolg nie. Ek het nie kennis gedra van die werklike feite van die moorde waarvoor Eugene de Kock vervolg is nie en kon derhalwe nie daaroor kommentaar gelewer het nie.
Al die gevalle waarby Eugene de Kock betrokke is en waarvoor hy amnestie gevra het, verskyn volledig op die webtuiste van die waarheid- en versoeningkommissie. Daar is geen geval waar daar enige melding gemaak word van enige dade wat deur generaal Piet Viljoen toegesmeer is of waarvan hy redelik kon kennis gedra het nie. Generaal Johan le Roux het saam met Eugene de Kock vir een voorval amnestie gevra wat egter deur twee lede van die amnestiekomitee geweier is. Die derde lid van die komitee, mnr. Wynand Malan, het in ‘n minderheidsuitspraak oortuigend aangevoer dat die weiering ‘n growwe dwaling was. Die weiering sou derhalwe op hersiening tersyde gestel gewees het. Genl. Le Roux was ‘n kolonel in bevel van die veiligheidstak op Krugersdorp toe die voorval plaasgevind het. Dit maak gevolglik ook geen sin dat genl. Le Roux die verplasing van Rouen Pallas gereël het om Eugene de Kock se dade toe te smeer nie.
Ek het ten opsigte van alle voorvalle waarby ek betrokke was volledige aanspreeklikheid aanvaar. Waar enige persoon wil beweer dat ‘n generaal enige voorval waarby Eugene de Kock betrokke was, toegesmeer het en daarna aanspreeklikheid ontduik het, gee asseblief besonderhede van die voorval met vermelding van die datum en plek waar dit plaasgevind het. Ek sal met graagte daarop antwoord. Om persone op grond van veralgemenings te beswadder bly egter laakbaar en oneties.