POLISIEMAN, VAKMAN OP ALLE GEBIEDE
deur Majoor Tiaan Crafford
Die gesegde, ‘n man van 12 ambagte en 13 ongelukke is nie geldend vir lede van die Suid-Afrikaanse Polisie nie, want eenmaal ‘n polisieman altyd ‘n polisieman. So van ambagte en gesegdes gepraat, as jy nou duisende klein jukskeitjies met groot koppe soek sal jy dit in die familie – Suid-Afrikaanse Polisie – kry. Daar staan nou net mooi niks vir hulle hande verkeerd nie.
Reeds vanaf 1913 was die pligte van die Suid-Afrikaanse Polisie al menigvuldig sodat daar vandag bykans geen staatsdepartment of instansie is vir wie nie ‘n verskeidenheid take verrig word nie. Ons voorgangers was die dip- en onkruidinspekteurs, die wyn- en melkmonsternemers, die verskaffers van reënverslae aan die Weerburo, die verkeersbeheerders en inspekteurs van veesiektes soos bek- en klouseer. Dit, en nog veel meer, was daagliks verrig afgesien van die primêre taak om misdaad te weer en misdadigers op te spoor en te vervolg.
Menigmaal moes polisieman se kind vroedvrou speel en omdat hy terselfdertyd ook geboortes en sterfgevalle geregistreer het, het baie moeders net daar aangedring dat hul nuweling die voorname van die betrokke konstabel of sersant moes dra. Die rol van predikant is ook al dikwels volvoer. Van hoe om plegtig ter aarde te bestel kon jy sommiges niks leer nie. As draer van goeie en slegte nuus, het hy hom meester gemaak van enige situasie.
As raadgewer word hy gebring tot baie probleme in huislike kringe waar hy as bemiddelaar moet optree en die vrede herstel. Daar is baie getuienis hoe polisiemanne Kleurlinge en Swartes sonder groot seremonie dan ook net daar met sy handtekening en datumstempel tussen tafel en bed geskei het. Dit het dan sonder uitsondering spoedig die gewenste versoening gehad wanneer aan dieselfde paartjie se wens voldoen is en hulle weer in die huwelik bevestig is – al was dit dan maar so agter-die-bos-trou.
Op mediese gebied het die polisieman voortreflike dienste gelewer. Op Heilbron het kolonel Baston tydens ‘n noodoperasie assisteer en ook die rol van narkotiseur met sukses vervul. Tydens die Groot Griep het hul duisende help inent en selfs in die dorpe en platteland ingespring om die siekes te verpleeg en te versorg. Die jammerhart van die polisieman word in die volgende geboekstaafde vertelling weerspieël: “Terwyl ek op diens was in Kerkstraat, Pretoria, het ek op drie kindertjies afgekom wat verbitterlik huil. Hulle het drie dae laas kos gehad en gekla dat hul pappie en mammie nie wil wakker word nie. Hul ouers het inderdaad gesterf aan die gevreesde griep. Ek het hulle aan huis geneem en vir geruime tyd versorg.”
Deur die jare het die polisieman dit nog altyd as sy plig en eer beskou om sy medemens te help.
‘n Vertelling wat vanuit Leydsdorp kom lui dat treine vanaf Komatipoort na Pietersburg dikwels in die laat twintigerjare onklaar geraak het. “Dit was dan ons plesier om kos, water en wildsvleis vir die pot vir die passasiers aan te ry.”
So tussen self tik, teemaak en “trou” moet hy nog tolk en sommer tug ook. Verder word sy geduld tot die uiterste beproef, want daar is so baie ander wat hom wil voorsê hoe om ‘n ding te doen. Daar is die ongelowiges, dwarstrekkers, sarkastiese en uitdagende tipes wat sy draadwerk opwen en hy durf dan nie kik of mik nie. Hy moet te alle tye kalm bly, hoe angstig sy hart ookal onder sy uniformbaadjie klop of hoeveel keer sy humeur breekpunt bereik . In ‘n krisis help dit nie om die horings op te steek nie – almal kyk dan na die konstabel vir leiding en sy handelswyse doen veel om aan te moedig, gerus te stel, en om vertroue by die bedroefdes, platgeslaandes, omgekraptes en omstanders in te boesem.
Hy moet baie oordeel en insig aan die dag lê en daarby nie ‘n bang haar op sy kop hê nie. ‘n Rower of moordenaar moet soms in ‘n dolle vaart agtervolg en arresteer word in omstandighede wat die hare laat rys…of op doodsveragtende wyse ‘n wanhopige red vanaf die lysie op die 20ste verdieping van ‘n gebou.
Die polisieman is inderdaad ‘n man met 14 ambagte en 15 suksesse.

Uitgesaai deur die Afrikaanse Radiodiens (SAUK) in die program “In my kontrei”.
DEEL HIERDIE BLAD