Siek Eugene de Kock ‘steeds gevangene’
Deur Erika Gibson | 25 Junie 2017 07:30

'n Uitgeteerde Eugene de Kock (68), voormalige Vlakplaas-bevelvoerder wat in 2015 op parool vrygelaat is, word in ’n bedenklike toestand in ’n senuweekliniek in Pretoria behandel.
“Hy het in Desember ’n algehele fisieke en geestelike ineenstorting gehad,” het Anemari Jansen, vertroueling en skrywer van die boek oor De Kock, Assassin for the State, die afgelope week gesê.
“Hy het eers weens ’n longembolisme by die dood omgedraai. Dit was sy liggaam se reaksie nadat hy reeds erg depressief was.”
De Kock word geruime tyd in die kliniek weens depressie en angsneurose behandel. Nou is sy mediesefondsvoordele vir behandeling uitgeput. Sy verdere behandeling in die kliniek sal na raming minstens R113 000 beloop, maar langdurige behandeling selfs meer, sê oudgenl. Johan van der Merwe, voorsitter van die polisie se liefdadigheidstrust. Dié trust werk saam met Jansen om geld in te samel om De Kock te help met sy uitgawes en ’n plek te kry waar hy permanent kan intrek.
De Kock, wat die polisie destyds met ’n skeidingspakket verlaat het, kry geen pensioen nie.
“Hy het geen vaste heenkome nie en dit is deel van sy probleem. Hy word van een veilige huis na die volgende geskuif. Hy het nêrens wat hy sy eie kan noem om sy voete in die samelewing te vind nie,” sê Jansen. “Hy is in sy kop nog nooit werklik uit die tronk vrygelaat nie, want hy is steeds ’n gevangene van sy omstandighede.”
Volgens haar het die verwerping toe De Kock laas jaar in Mei by ’n literêre fees in Franschhoek gevra is om die fees te verlaat, hom diep seergemaak.
“Hy het ’n absolute vrees vir verwerping en afsondering en hy ervaar sedertdien albei in toenemende mate. Hy kan weens gloukoom nie lees nie. Hy sukkel.”
De Kock is in 2015 met streng paroolvoorwaardes vrygelaat nadat hy meer as 20 jaar in C Max, die maksimumsekerheidsafdeling van die Kgosi Mampuru-tronk in Pretoria, opgesluit was. Hy is daarna steeds deur beamptes van vermoedelik staatsveiligheid bewaak en sy adresse is geheim gehou. Hy het sedertdien meer vryheid, maar anders as ander soortgelyke gevangenes het De Kock nooit berading voor sy vrylating gekry nie. “Hy is letterlik net laat gaan in ’n wêreld wat hy nie meer ken nie,” sê Jansen.
De Kock sou tydens sy parool die departement van justisie help met die afhandeling van sekere sake oor vermiste mense voortspruitend uit vergrype wat in sy tyd by Vlakplaas plaasgevind het. Dit het volgens van sy oudkollegas tot heelwat ongemak by van hulle gelei omdat hulle van voor af weer by “dinge van die verlede” bygesleep sou word.
Veral sy oudmakkers wat lank reeds dié era afgesluit en as sakemanne gevestig is, wil niks met De Kock te doen hê nie, het van dié mense op voorwaarde van anonimiteit gesê.
Van der Merwe sê baie mense het letsels oorgehou van “dié onstuimige tydperk”.
Volgens Van der Merwe is een van die moontlikhede wat oorweeg word om De Kock in ’n aftreeoord met versorging te vestig.
“As so ’n plek aangekoop word, kan dit dalk deur die liefdadigheidstrust bestuur word. By Eugene se afsterwe bly dit die eiendom van die trust,” sê Jansen.
“Maar ek kyk ook na ander opsies soos skarefinansiering. As 1500 mense elkeen R1000 bydra sal ons ’n plekkie vir hom kan koop.”
Bron: netwerk24.com

Aanbevole leesstof:
Die Konflik van die Verlede : 'n Feitlike Oorsig Recommended reading:
The Conflict of the Past : A Factual Review |