'N UNIEKE DIALEK
deur Kaptein M. de W Dippenaar
‘n Polisieman het ‘n taalgebruik wat seker weining letterkundiges in vervoering sal hê. Hierdie eie taal, ‘n mens kan amper sê dialek is egter nie as gevolg van onkunde of onnoselheid nie, nee. Dit is tiperend, beskrywend, vriendelik en dis eie aan ‘n groep mense wat voltyds in ‘n eksklusiewe werksituasie staan. Die woorde stel polisiemanne in staat om mekaar te identifiseer, te verstaan of selfs mekaar te waarsku en niemand anders sal iets wyser wees nie. Sommige woorde is selfs vir die hoër offisiere ‘n duistere raaisel – natuurlik tot voordeel van die jonger lede wat een of ander noodboodskap rakende die betrokke hoë offisier aan mekaar wil oordra.
Die polisiestasie sal dus vir ‘n polisieman altyd net die “stasie” wees, wat nogal verwarring kan skep as daar op dieselfde dorp ook ‘n spoorwegstasie, brandweerstasie, en so meer, mag wees. Maar om een of ander rede heet ‘n Afdelingshoofkantoor die “Withuis”. Hierdie Amerikanisme val egter nie so vreemd op die oor as wanneer geregsdienaars eers begin gesels oor die “Kremlin” nie en daarmee word bedoel die Suid-Afrikaanse Polisie Hoofkantoor in Pretoria. Dit is so dat die Kommissaris van Polisie self daar gesetel is, dog hy is darem geen Russiese politieke “Kommissar” nie! Nee, wanneer geregsdienaars van hulle Kommissaris praat, ongeag wie op watter tydstip die amp beklee, praat hulle met respek van “Super Sarge”. Wanneer laasgenoemde term deel geword het van polisietaal en waarom, kan niemand meer onthou nie. Miskien is dit ‘n oorblyfsel van daardie jare in die Mag se geskiedenis toe die sersant op die stasie die belangrikste man in die polisie was. Seker die sigbaarste onderskeiding in die polisie is tussen die lede wat uniform dra en diegene in siviele klere. Dat ‘n polisieman burgerdrag aan het beteken nie dat hy tot die speurafdeling behoort nie. Daar is heelwat ander vertakkinge waar speurders en uniformlede gesamentlik werk, almal in burgerdrag geklee. Maar basies het die Polisiemag drie bene, naamlik die uniformafdeling, die speurafdeling, en dan die veiligheidsafdeling. Ondermekaar het polisiemanne hulself etikette omgehang met onderskeidende woorde vir die drie verskillende afdelings. So sal ‘n speurder na ‘n kollega in uniform verwys as “daai ysterbaadjie”, terwyl die uniformman weer ‘n speurder ‘n “goiingbaadjie” of “lapbaadjie” noem. Die “yster” verwys natuurlik na die rangtekens, goue knope en naamplaatjies wat die pragtige polisie-uniform so uitstaande maak. Die “going” en “lap” is seker selfverklarend. Alles in goeie gees. Gesamentlik sal die twee afdelings van die veiligheidsafdeling praat as die “erdwurms”. As die polisiemanne verbonde aan die veiligheidsafdeling die tyd had mog hulle hulself dalkies kon vererg vir die benaming, dog die werk is te veel om aandag te gee aan sulke kleinighede. En waarom polisiehonde, daardie trotse Alsations en dienstige Dobermanns, die “spykerbekke” heet, weet nugter, maar een ding is seker, die woord word baie versigtig in hulle teenwoordigheid genoem. Mens weet nooit wanneer hond se kind eendag besluit om te verstaan en aanstoot te neem nie! Afhangende van wie waarmee werk het ‘n gewone leêr of saakdossier ook ‘n naam. Beide klerke en ondersoekbeamptes sal altyd met gesag kan gesels oor die inhoud van hulle “vaaldonkies”. Die verwysing na ‘n donkie spreek vanself. Elke leêr of saakdossier wat bykom maak die werklading so ‘n bietjie swaarder. Maar wie eintlik die arme donkies is wat oorlaai word, die polisieman of die dokument, sal seker altyd ‘n ope vraag bly. Konstabels en sersante sal altyd in gees jonk bly en hulle taal tydsgewys daarby aanpas. Daarom sal vele offisiere vandag seker verbaas wees om te hoor dat hulle – dit is die offisiere – huidiglik “blommekinders” genoem word. Dis nou veral offisiere met die rang van majoor en hoër. Die rede vir hierdie uiters gepaste naam is eintlik voor die hand liggend. Die polisie se amptelike kenteken is die aalwyn en senior offisiere se kraagpatte en pet-tuite is versier met ‘n aalwynmotief. Om ‘n “blommekind” te wees kan dus nie so ‘n slegte plan wees nie, want dan is jy mos eers waarlik in die tel. Die adjudant-offisiere het egter vir dekades al ‘n ander vrees en dit is vir die “Mielieraad” – of ook al genoem die “Koringraad”. Hierdie raad, wat ookal die benaming, is ‘n gewetensgèselaar by uitstek. Alvorens ‘n polisieman ‘n offisier kan word moet hy voor hierdie raad verskyn vir keuring. En honderde aspirant-luitenante het al letterlik bloed gesweet en hul gewetens en geheues met ‘n vergrootglas ondersoek alvorens hulle met bewende broeke voor hierdie befaamde “Mielieraad” ingeloop het. Weer eens verwys die “mielie” en “koring” na die baie goud, want op die Keurraad sit slegs generaals en baie senior brigadiers. Ai, wat ‘n polisieman tog nie alles moet deurmaak en sal deurloop om tog net op die “lys” geplaas te word nie – verwysend na die bevorderingslys. Dis al lys wat in die polisie enige betekenis het en is ook nog ‘n woord gelaai met implikasies. Maar tipies van die polisie word geeneen gespaar nie. Enigeen wat nie aan die Mag verbonde is nie, ongeag wie hy of sy ookal is, word ‘n “haas” genoem. Nou ja, oor die meriete van so ‘n woordjie kan daar tot in ewigheid geredeneer word, maar die feit bly staan dat sou ‘n misdadiger weet die gereg is op sy spoor sal hy die hasepad kies. Miskien is “haas” dan tog ‘n gepaste woord – al moet ek sê, dis nie baie vleiend nie. Sela. Ons kan nog vele voorbeelde noem van ‘n eie taalgebruik wanneer polisiemanne met mekaar kommunikeer oor misdadigers. So sal jy hoor hy of sy “sing soos ‘n kanarie” of iemand “kom nou sterk deur” – met verwysing na inligting wat vrywilliglik gegee word. En so aan en so aan en so aan. Ongelukkig verhoed tyd ons om meer voorbeelde te gee. Ons kan nie eers gesels oor die name wat ons “Bobbies” op grensdiens aan hul voertuie, woonplekke, patrollies of kos gee nie – meeste daarvan sal radiodrade in elk geval laat smelt. Maar dat die polisie – vergun my om hulle ook die “platkepse” te noem – lekker kan praat en taalkundig fyn kan spot met en onder mekaar is so seker soos wat die “Kat” in die Kollege op sy tyd sy sirene-skreeu sal gee. Uitgesaai deur die Afrikaanse Radiodiens (SAUK) in die program “In my kontrei”.
|
Aanbevolle
|
DEEL HIERDIE BLAD