VINGERS WAT VERRAAI
deur Majoor Tiaan Crafford
In Job 37 vers 7 staan geskryf: “Hy verseël die hand van elke mens in die winter, sodat tot kennis kom al die mense wat Hy gemaak het”.
Vingerafdrukke het al onuitwisbare merke gelaat in die misdaadkronieke van Suid-Afrika. Reeds gedurende 1895 is ‘n man in Indië vermoor en van sy geldtrommel beroof. Sy moordenaar het egter ‘n vingerafdruk – ‘n “vinger” in die polisietaal – op die trommel agtergelaat wat homself sodoende die kind van die rekening laat word het. Die Franse speurder, Alphonso Bertillon, het ‘n noemenswaardige bydrae tot die studie van die identifisering en individualisering van vingerafdrukke gemaak, en verdien om uitgesonder te word. Jou vingerafdrukke is so goed as ‘n briefie met jou naam en adres daarop wat op die misdaadtoneel agtergelaat word. Reeds voor ‘n mens se geboorte word ‘n vingerafdruk vasgelê en die kans dat dit dieselfde kan as ‘n ander vingerafdruk is ongeveer ‘n septiljoen teen een (43 syfers in ‘n ry!) Al word dit erg verbrand, geskroei, gesny of in suur gedoop, keer dit weer na die oorspronklike terug. Selfs die vingerafdrukke van identiese tweelinge stem nie ooreen nie. Daar is reeds vasgestel dat vingerafdrukke, veral in gunstige omstandighede, vir etlike eeue behoue gebly het. Die eerste vingerafdrukkantoor hier te land is in die jaar 1900 – ‘n jaar voor Scotland Yard dit gedoen het – in Pietermaritzburg gestig. In 1925 is soortgelyke kantore vanoor die hele land saamgesnoer om die Suid-Afrikaanse Kriminele Buro in Pretoria te vorm. Benewens ‘n groot aantal take wat die Suid-Afrikaanse Kriminele Buro verrig, word bykans 4¼ miljoen stelle vingerafdrukke jaarliks deur hierdie kantoor hanteer. Ongeveer 600 000 stelle misdaadrekords word jaarliks aan die howe voorsien. Dit is dan ook nie net die met die lang vingers wat hul vingers verbrand nie. Oorsese wetenskaplikes is besig met ‘n ondersoek om te bepaal of foto’s van die menslike oor as aanvullende uitkenningsmiddel vir die gevestigde vingerafdruk kan dien. Misdaad word letterlik met hand en tand beveg. Menige inbrekers moes al hul snoeperigheid berou het nadat hul tandmerke in kaas of waskunsvrugte agtergelaat het. Gedurende 1961 is ‘n rower swaar gestraf omdat hy sy slagoffer eers vasgebind en beroof het. Hy was egter van die nuuskierige soort wat homself in die spieël wou bekyk maar sy handpalm daarop agtergelaat het. In een besondere geval moes die inbreker vingeralleen gevoel het. Hy het naamlik deur ‘n venster ontvlug maar ‘n stukkende ruit het een van sy vingers morsaf gesny. Dit het toe op die toneel agtergebly. Nadat dit met vorige vingerafdrukke ge-identifiseer is, is die vingerlose spoedig daarna opgespoor. In Kaapstad het die gereg ook eenmaal bykans nie nodig gehad om self ‘n vinger te verroer om hul misdadiger aan die man te bring nie. Daar is naamlik by ‘n kantoor ingebreek en ‘n groot hoeveelheid geld uit ‘n brandkas gesteel. Die speurders het die brandkas oopgemaak. Binne-in, die vonds: geen geld nie – net ‘n duim. Dit blyk toe dat die dief nadat hy die geld gebuit het die brandkas omgekeer het. In die proses het die deur toegeslaan en sy duim agtergehou. Hulle het net ‘n vingerafdruk van die duim geneem en vasgestel dat dit die duim van ene Joseph Square, ‘n berugte misdadiger, moet wees. Die speurders het ook geweet waar om hom te gaan haal – sy een duim was af. Weer eens ‘n vingerwysing – jou “vingers” verraai jou. Uitgesaai deur die Afrikaanse Radiodiens (SAUK) in die program “In my kontrei”.
|
Aanbevolle
|
DEEL HIERDIE BLAD