Dit is 'n groot eer wat my toegeval het om die voorwoord van hierdie nuwe uitgawe van die Nongqai te skryf, hier reg aan die begin van die 3de dekade van hierdie eeu.
Ek het natuurlik eers hierdie kraakvars uitgawe, soos gewoonlik, van voor tot agter deur gelees.
Ek had veel plesier aan hierdie uitgawe. Ek het elke keer teruggeblaai en sommige artikels wéér gelees – en was ek weer van voor af meegevoer. Dit is inderdaad asof dit my heeltyd aan die strot gegryp het.
Nou nog, baie jare later, kan ek sonder huiwering sê dat die Nongqai keer op keer vir my 'n maandelikse lees-hoogtepunt is. En wil glo dat dit dieselfde is vir baie ander getroue Nongqai-lesers.
Ek wil van hierdie geleenthdeid gebruik maak om nie net oor hierdie spesifieke uitgawe (meer daaroor onder) te skryf nie, maar ook iets kortliks oor die samesteller en redakteur, brigadier Hennie Heymans, en dan ook oor die begrip 'geskiedenis' self.
Die doel met hierdie publikasie is om ons - veral die SAP, vorige veiligheidsdienste en ander historiese gebeurtenisse - se geskiedenis te bewaar en begrip daarvoor te bevorder.
Iemand het eendag gesê-vra oor "die ding van onthou en vergeet". En soos Johannes van die Bybel het brigadier Heymans duidelik die gevoel dat hy en ander bydraers weer daaroor - die geskiedenis - móét skryf sodat ons dit kan onthou. 'Onthou' is natuurlik die pantser teen 'vergeet'.
Derhalwe wil ek dan vir brigadier Heymans namens al ons lesers salueer vir sy ywer, volharding, entoesiasme en verstommende energie om die Nongqai jaar na jaar, maand vir maand, aan ons te lewer. Ek raak partykeer moeg net as ek daaraan dink.
Daar het in die SAP byvoorbeeld dinge in die verlede gebeur waarvan party lede die (verstaanbare) gevoel het dat die feite daarvan eerder nié opgehaal moet word nie. Partykeer is dat dit 'ons mense' is wat verkeed gedoen het. Dit is natuurlik 'n verkeerde benadering, weens die doodeenvoudige feit dat dit maar net bloot geskiedenis is wat nie onder die maatemmer geskuif mag word nie, want dan is dit selektiewe geskiedenis
Aan die ander kant weer sal veral die ouer garde weet dat daar die afgelope jare verbete pogings is om verwronge weergawes aan ons voor te hou - selfs oor die SAP. En so is talle skrywers ook besig om hulle misplaaste perspektiewe van die verlede doodeenvoudig as die waarheid te verkoop. Hulle glo húlle waarheid en aanvaar bloot dat die lesers en aanhoorders in vandag se tye dit sonder teëstribbeling moet aanvaar. Oor dinge van die vorige (politieke) bedeling kan jy mos maar aandik soos jy wil kom dit vir my voor. Mettertyd kan dit dan die aanvaarbare narratief word. En dít mag nie toegelaat word nie.
En verset my teen dít, en wanhoop partykeer wanneer ek telkens weer sien hoe ons mense hulpeloos en onbeholpe staan teenoor sulke verdraaiïngs. Nongqai het egter die afgelope jare egter baie gedoen om die ware feite te publiseer en so vir die nageslag te bewaar.
Ek wil dan nou kotrliks hier enkele gedagtes herhaal wat ek al oor die 'geskiedenis' gesê het - veral vir die Nongqai-lesers wat nie insae daartoe gehad het nie.
Brigadier Fanie Bouwer in 1984 toe hy nog die rang van Kaptein beklee het.
Ons ervaar geskiedenis deur woorde. Met ander woorde, deur storievertellings; deur die kronologie van gebeure én datums.
Geskiedenis móét vertel word vanuit alle hoeke en oogpunte, alhoewel geskiedenis egter, soos hierbo aangedui, net so subjektief kan wees soos die hedendaagse joernalistiek.
Lees maar 2 verskillende koerante oor d.s. onderwerp en let op waaroor geskryf word en wat geïgnoreer word. Dít reflekteer natuurlik die skrywers se subjektiwiteit oor die onderwerp.
In die nuwe orde van SA vandag, soos seker maar voorheen ook, gee die nuwe heersers met al groterwordende selfvertroue hulle eie perspektiewe oor die verlede. Daardeur herskep en herrangskik die huidge orde dan die geskiedenis - maar meesal ook om hulle eie mislukkings te probeer verbloem.
So word sekeres se bydraes in die anale van die geskiedenis uitgewis en word die huidige politieke elite wat die nuutgevonde vrugte van vryheid selfs onwettig pluk, se eie geskiedenis opgehemel.
Daardie van ons wat deel was van die werklike, onlangse (resente) geskiedenis - bv. die pre-1994 era - en sekere dinge werklik gesien, belewe en ervaar het, lees en luister met ongeloof na sekere mense se uitsprake en perspektiewe asook die verdraaiïng van sekere feite van daardie tyd.
Hier dink ek bv. aan enkele dinge uit my/ons persoonlike ervarings soos Soweto 1976; die relatief goeie rasseverhoudinge van daardie tyd andersins; die werksaamhede van die SAP wat 'n veilige en ordelike leefomgewing geskep het; die hoë standaarde in die staatsdiens en elders en so aan. Daar is baie meer voorbeelde.
Foute was gemaak ja, maar tog. Dis mos onsinnig om net sekere feite te wil erken of andersins 'n verwronge weergawe te wil gee.
Die situasie rondom geskiedenisvertelling en bespreking daarvan het intussen 'n aaklige en onaanvaarbare wending geneem.
Dit is dat jy niks goeds van die verlede (en daar is baie) in die openbaar mag sê of dit mag verdedig nie. Doen jy dit, word jy as't ware in die verdoemenis verdryf deur politieke leiers en sekere media-elemente. Ook dít sal teengestaan moet word. Ander se geveinsde sensitiwiteit mag nié die botoon voer nie.
Sekere feite van die verlede staan vas en kan nie verander of ontken word nie. Ander dinge weer kan verskillende opinies tot gevolg hê
Ek het hier bo geskryf "vanuit alle hoeke en oogpunte". Dit is so omdat - met die storievertellery en storieskrywery uit almal se dalk subjektewe perspektiewe - kom die ware feite van die verlede ook gewoonlik na vore. Iemand het ook al gesê dat soos die jare aanskuif, raak die geskiedenisfeite ook dan duideliker en meer akkuraat.
Daarom is dit goed en reg dat 'n internet-publikasie soos hierdie (Nongqai) wat onder leiding van brigadier Heymans nou al vir baie jare ook die geskiedenis van SA se polisie (selfs meer as net dit ook) hier weergee - ook deur woorde; storievertellings; deur die kronologie van gebeure; datums én foto's. Dit het ons nie net ingelig nie, maar ook die lig vir ons laat skyn op 'n onbekende of selfs donker verlede.
Toekomstige geslagte - en nuwe, aspirant-geskiedkundiges - sal ook dan kan put uit brigadier Heymans se jarelange arbeid en navorsing, sodat die geskiedenis hieromtrent nie verlore gaan nie.
Ek wil ook dan van hierdie geleentheid gebruik maak om ander lesers en bydraers wat so getrou foto's en artikels instuur om in Nongqai gepubliseer te word van harte bedank daarvoor. U wat hier lees kan gerus ook voortaan daaraan meedoen.
Ek lig hier slegs twee insiggewende artikels uit wat in hierdie uitgawe verskyn.
Eerstens bedank ek hiermee spesiaal vir kolonel Logan Govender vir die besonderse moeite wat hy gedoen het om die sluier vir ons te lig oor die Indiër-polisie van destyds.
Hier is ook 'n reeks pragtige, interessante en geskiedkundige foto's geplaas deur Jim Hooper ("Pictorial Essays of Ops K") wat lesers 'n goeie idee sal gee oor hoe dinge destyds in operasionele omstandighede gelyk het. Dankie Jim.
Dan is hier ook nog etlike ander insiggewende artikels, geskiedkundige dokumente en ou foto's wat jou aandag gaan behou.
Lekker lees! En nogmaals baie dankie aan almal vir hulle bydraes.