VROUEPOLISIE (I)
deur Kaptein M. de W. Dippenaar

“Dis anner dae die”.
Hierdie opmerking was gemaak deur ‘n Swart man, wat jarelank tee gemaak het by ‘n afdelingshoofkantoor, toe een van die eerste vroue-offisiere in uniform by die kantore ingeloop het.
Dit was beslis “ander dae” toe die eerste groep vroue in 1972 met hulle opleiding in die Suid-Afrikaanse Polisiekollege begin het. Die reaksie van lede van die Mag en die publiek het gewissel van ongeloof, verontwaardiging, vertwyfeling, verskrikking tot geamuseerdheid.
En dit was nie lank nie toe gons dit reg deur die polisie oor hierdie nuwigheid wat nou weer kop uitsteek. Polisiemanne, oral, het in die mou gelag en besluit dat ‘n polisievrou, of laat ek liewer sê ‘n vroulike lid van die polisie, ‘n Poldol of ‘n Poldoedie moet heet. Dit was so besluit – nie-amptelik natuurlik – en polisiemanne het so effens paternalisties en met ‘n tikkie meerderwaardigheid geglimlag by die gedagte. In hul harte, egter, en sonder om dit ooit hardop te erken, het hulle ‘n stille begeerte gehad om tog ‘n kollege-instrukteur te wees.
Vir die vrou was die opleiding in ‘n militêre opset vreemd en het dit gepaard gegaan met ‘n sekere mate van angs en benoudheid. So vreemd dat ‘n dame van die verre Noordweste na twee weke van opleiding ernstig kom vra het: “Ek wil net graag weet wat gaan vir wat?”
Die uitdaging is egter aanvaar en na mate die opleiding vorm aangeneem het, het die aanpassing makliker en gemoedeliker geword. Nuwe vriendskappe is aangeknoop met die mede-susters-in-verdrukking en heel gou het die kenmerkende bynaamgeëry begin. Die opleidingsrok was herdoop tot die “skroprok”, die fotograaf word “Piet Portret”, en die oggendsirene word die “kat wat skreeu”. Een van die dames het die sirene op band geneem en soms in die middel van die nag gespeel. Haastig het almal dan opgevlieg en begin gereedmaak vir die dag se klasse – noodhulp, skietkuns, gimnastiek, selfverdediging, voetdril en akademiese werk.
Een van die uitstaande dae in opleiding is die dag waarop uniforms gepas en uitgereik word, want dan begin die besef eers posvat dat hulle polisievroue is. Vir die Kwartiermeester was dit vreemd om te sorg vir paskamers en gordyne voor die vensters. Nog nooit voorheen moes hulle voorskrifte in Dragorders insluit oor grimering, naellak, borsspelde, ringe, pruike, swangerskap en broekiekouse nie. Die aanpas van uniformstukke, veral so aan die beginjare, het baie amusant verloop. Die klere is vervaardig sonder ‘n bepaalde patroon vir elke dametjies se spesifieke mates. Die nommerpas romp se grootte is nie altyd dieselfde as die baadjie nie, of andersom. Waar die een hier te kort was, was die ander te groot, te nou of te lank. Probleme was legio en dit het die Kwartiermeester-personeel grys hare besorg om uit te sorteer waar die goeie gemiddeldes geleë was. Tog het dinge geleidelik reggekom, sodat een van die dames tydens passings opgewonde kon uitroep: “Die baadjie pas pragtig”. ‘n Antwoord het blitsvinnig gekom: “Dan is jy gebreklik”.
Die jare het ook alweer aangestap. Toe die eerste klompie vrouekonstabels op hul onderskeie stasies aangekom het was hulle soos porseleinpoppies behandel. In 1983 is die nuwigheid af en is hulle volle vennote in die polisie se stryd teen misdaad. Natuurlik het polisiehuwelike gevolg. Dit was ‘n logiese voortvloeiing uit die gelyke werksituasie, en sou ook lei tot probleme en situasies.
Soos die jong konstabel daar in verre Wes-Transvaal wat op ‘n dag by sy stasiebevelvoerder kom en plegtig vra: “Luitenant, ek is ‘n polisieman en my vrou is ‘n polisievrou. En, luitenant, die Polisieregulasies sê ‘n lid van die polisiemag moet 24 uit 24 uur beskikbaar wees vir diens. Nou verwag my vrou ons eerste baba, en een of ander tyd sal sy mos moet bedank en gaan ons sonder haar salaries moet leef. Kan ons nie maar ‘n raad op haar laat hou en sê sy is swanger as gevolg van ‘n besering op diens nie? Dan kry sy mos minstens ‘n pensioen”.

DEEL HIERDIE BLAD